1e 300ste Krioballon-ablasie in Afrika

15th April 2016

‘n Kaapse eenheid is nou gevestig as die onbetwiste leier in krioballon-ablasie vir die behandeling van atriale fibrillasie in die Midde Ooste/Afrika streek. Dit is ‘n feit nadat dr. Razeen Gopal, kardiale elektrofisioloog, en sy span by die Kaapstad Atriale Fibrillasie Sentrum in Mediclinic Panorama hospitaal hulle 300ste krioballon-ablasie prosedure op 16 Februarie 2016 uitgevoer het.

Dr Razeen Gopal en lede van die span

Dr Razeen Gopal en lede van die span

Dr. Gopal bevestig: “Dit is verreweg die grootste aantal pasiënte in Suid-Afrika en die hele Midde Ooste/Afrika streek wat krioballon-ablasiebehandeling vir atriale fibrillasie ontvang het. Ek glo ons span het daarin geslaag om ons pasiënte se lewens te verander en hul lewenskwaliteit te verbeter sodat hulle ‘n beter lewenstyl kan geniet.”

Dié prestasie is binne die kort bestek van slegs vier jaar bereik en boonop deur ‘n enkele spesialis, (al is verreweg die meeste van die gemiddeld 300 ablasies wat dr. Gopal per jaar uitvoer, radio-frekwensie ablasies, oftewel hitte-ablasies) terwyl soortgelyke prestasies in die VSA en Europa deur ‘n hele span elektrofisioloë per eenheid behaal word.

Atriale fibrillasie (of AF) is die algemeenste hartritme-stoornis: een uit agt mense ouer as 60 jaar ly aan AF, maar dit affekteer ook al meer jonger mense. Die voorkoms van AF neem toe met ouderdom.

AF word gekenmerk deur ‘n onreëlmatige hartritme wat in die boonste hartkamers (vulkamers of atria) begin. Vanweë abnormale ekstra elektriese impulse wat veral die linker boonste kamer binnekom, kan die vulkamers teen ‘n baie hoë, maar chaotiese spoed van 600 – 900 slae per minuut saamtrek, pleks van ‘n normale reëlmatige ritme van 60 – 90 slae per minuut. Dié onsamehangende trillende sametrekkings pleks van normale gesinchroniseerde sametrekkings kan turbulente bloedvloei en stolselvorming in die vulkamers veroorsaak, wat weer tot ‘n katastrofiese beroerte kan lei.

Krioballon kateter ablasie is ‘n sleutelgat-prosedure wat via ‘n kateter (wat vanaf die lies in ‘n groot been-aar tot in die hart gestoot word) gedoen word en waartydens die long-are elektries geïsoleer word om te vehoed dat abnormale elektriese impulse die hart binnekom.

Krioballlon-ablasie het ‘n omwenteling in die behandeling van vroeë atriale fibrillasie teweeggebring, want dit is die enigste enkelskoot-tegnologie wat klinies bewys is dat dit veilig en effektief is. Dit word nou universeel gebruik in die behandeling van beide vroeë (paroksismale) en gevorderde (persisterende) AF deurdat die long-are (pulmonale venes) met ‘n enkele ablasie in ‘n volkome aaneenlopende sirkel geïsoleer word, pleks daarvan om ‘n aaneelopende kring te probeer skep deur talle enkelkol-ablasies styf langs mekaar. Die tegnologie het die verdere voordeel dat – anders as die risiko met radiofrekwensie – dit byna nooit nuwe ritme-stoornisse skep weens litteken-vorming nie.

Dr. Gopal beskou krioballon-ablasie as ‘n groot stap vorentoe omdat die lokalisering en behandeling van nuwe hartritme-stoornisse weens hitte-littekenvorming uiters moeilik en problematies is. Studies het getoon dat vroeë ablasie-behandeling tot beter langtermyn resultate en verbeterde lewenskwaliteit lei. Let ook op dat nuwe generasies antistolmiddels ook nou beskikbaar is om die risiko vir beroerte te verlaag.
Dit is belangtik om AF te behandel want:

*           Onbehandelde AF lei tot ‘n verhoogde (tot 5 – 10 maal hoër) risiko vir beroerte, omdat ‘n bloedstolsel vanaf die vulkamer maklik in die brein kan beland. Die risiko is veral hoër in mense met ‘n geskiedenis van beroerte, diabetes of hoë bloeddruk en mense ouer as 65 jaar.

*           As die onreëlmatige hartritme heeltyd vinnig en chaoties is (bekend as persisterende AF), kan dit tot hartversaking lei omdat die pompkamers (ventrikels) nie aanhoudend so vinnig kan saamtrek nie en die hartspier verrek en uitgeput word;

*           Onbehandele AF kan later tot veranderings in die hart se elektriese argitektuur lei wat hartritme-stoornisse kan vererger.

AF word gekenmerk met simptome soos moegheid, kortasemheid, lusteloosheid, hartkloppings, ongemak oor jou bors, flouheid en lighoofdigheid en agteruitgang in lewenskwaliteit.

Nico Barnard, ‘n pasiënt van dr. Gopal, kan getuig van die sukses van krioballon-ablasie: “Ek het ‘n groot vrugteplaas. My hartritme-probleme is aanvanklik behandel met medikasie wat ek daagliks moes neem. Ongelukkig het my hartritme buite beheer geraak en het ek baie gou moeg geword. Soms het ek gesukkel om asem te haal. Ek is na dr. Gopal verwys, en nadat hy bevestig het dat ek aan atriale fibrillasie ly, het hy ‘n krioballon-ablasie op my uitgevoer. Sedertdien kan ek baie van die fisieke uitdagings wat met vrugteboerdery gepaard het, hanteer. Heinrich Pieterse, ook ‘n pasiënt van dr. Gopal, bevestig dat sy lewe verander het ná die krioballon-ablasie. “Ek geniet dit nou weer om gholf te speel en kan voluit speel sonder om aanmekaar moeg te word. Ek kan ook nou rugby afrig en tydens oefensessies saam die span draf.” Beide dié pasiënte het sedert hul prosedures ‘n paar jaar gelede nie meer ritmebeheer-middels nodig nie.

Sowat 75% van pasiënte met vroeë (paroksismale) AF het binne ‘n jaar ná die prosedure nie meer ritmebeheer-medikasie nodig nie (antistolmiddels bly, afhangend van hulle risiko vir beroerte, aanbevole), terwyk 60% van pasiënte met gevorderde (persisterende) AF herstel na ‘n reeks ablasies. Dié suksessyfers van dr. Gopal se eenheid vergelyk uitstekend met die bestes in die wêreld.

Die suksesvolle span wat deur dr. Gopal gelei word, bestaan uit spesialis narkotiseurs, kliniese tegnoloë, toegewyde katerisasielaboratorium personeel, radiografiste en spesialis hart-aritmie verpleegkundiges. Laasgenoemde is intergraal in die AF ablasieprogram: hulle is noodsaaklik vir die opvolg van pasiënte en die koördinasie en bestuur van die program. Dr. Gopal is ‘n intervensionele kardioloog wat in Suid-Afrika, België en Engeland opgelei is. Hy is passievol oor opleiding en bied ‘n nasionale EKG opleidingsprogram aan vir algemene praktisyns en waaksorgpersoneel en is ook aan die stuur van Mediclinic Panorama se hart-beeldings besprekings. Hy word deur die mediese industrieë betrokke by die navorsing en vervaardiger van kateter-ablasietoestelle en hartritmetoestelle as ‘n wêreldkundige in die behandeling van hartritme-stoornisse beskou en tree dus gereeld plaaslike en internasionaal op as gaslektor in die opleiding van mediese studente, interniste en kardioloë. Hy is reeds telkemale genooi om opleiding te verskaf in hart-ablasieprosedures in die Midde Ooste, verskeie Afrika-lande sowel as die Indiese Oseaan eilande. Hy het ook in die Verenigde Arabiese Emirate opgetree as ‘n wêreldkundige in krioballon-ablasie.

Die Kaapstad Atriale Fribrillasie Sentrum speel ook dikwels gasheer vir van die wêreld se voorste elektrofisioloë. Ondanks dr. Gopal se vol program, is hy passievol oor navorsing en probeer hy sy bes om tyd in te ruim om sy navorsingsbevindings gereeld in mediese vaktydskrifte te publiseer.

Terwyl hy in Londen aan St Bartholomews en Oxford (John Radcliffe) hospitale verbonde was, het dr. Gopal by dié hospitale kateter-ablasie in die behandeling van AF uitgevoer deur radiofrekwensie (hitte) energie en krio (intense koue) energie. Hy het die eerste keer die prosedures in 2012 in Suid-Afrika uitgevoer en was die eerste om telkens die nuutste weergawes van krioballon-tegnologie in Suid-Afrika uit te voer. By die Kaapstad AF Sentrum, gesetel in Mediclinic Panorama, word krioballon-ablasie meestal gebruik om beide vroeë (paroksismale) en gevorderde (persisterende) AF te behandel, terwyl radiofrekwensie-ablasie meestal gebruik word om kinders met hartritme-stoornisse en ander hartritme-stoornisse by volwassenes sowel as weerstandige AF te behandel.

Onderskif vir foto:

  • Die nuwe krioballon laat die elektrofisioloog toe om die abnormale elektriese impulse tydens atriale fibrillasie akkuraat te meet deur die kateter anatomies baie naby aan die long-are se spierwande te bring.

 

Vir meer inligting oor AF, kateterablasies, videos, foto’s, illustrasies en gevallestudies, besoek www.capetownafcentre.co.za,

https://drive.google.com/open?id=0B45vFt4HNcCSdmJJRUFGZkxlTTQ,