Eerste in Afrika
28th February 2023
Atriale Fibrillasie, algemeense hartritme-defek met nuwe tegnologie behandel
Die eerste geval in Afrika waar ’n pasiënt met revolusionêre nuwe tegnologie behandel is om ‘n hartritme-defek te herstel, is Maandag in die Kaapse Skiereiland gedoen.
Die nuwe tegnologie bekend as elektro-porasie is uiters nuut, maar baie opwindend en kan moontlik tot ’n omwenteling in die behandeling van nie net atriale fibrillasie nie, maar alle ander hartritme-defekte lei.
Die eerste pasiënt, mnr Robert Reynecke (59) van Proteavallei, het kort na die prosedure, geglimlag. Geen teken van die hartritme-defek is sigbaar nie en kon selfs nie eens met verskeie probeerslae in die teater weer opgewek word nie.
Mnr Reynecke se hart-ritme is nou normale sinus-ritme, het Dr Razeen Gopal, hartritme-spesialis van die Cape Town AF Center by die Panorama Mediclinic in die Kaapse Skiereiland, gesê.
Die nuwe tegnologie, bekend as pulsveld-ablasie (of elektro-porasie), is baie nuut. Hoewel dit al in Europa, Engeland en die Midde-Ooste beskikbaar is, is dit nou in Suid-Afrika beskikbaar vóórdat dit in Amerika of Kanada beskikbaar is.
Volgens Prof Nico Reinsch, hartritme-spesialis van Essen in Duitsland, onder wie se toesig die eerste reeks van dié nuwe behandelings vandeesweek gedoen word, kan elektroporasie beskryf word as revolusionêr en nie bloot evolusionêr nie.
In die tagtigerjare het hartspesialiste probeer om hartritme-defekte met direkte elektriese ladings te behandel, maar die ladings was te moeilik beheerbaar, nie akkuraat genoeg nie en het groot skade aan omliggende hart- en ander weefsel veroorsaak. Dit is gestaak. Nou is die lewering van direkte elektriese ladings aan selle dramatiese verfyn tot die nuwe tegniek.
Elektro-porasie is anders as enige vorige ablasie-tegnieke, soos hitte (ook bekend as radio-frekwensie) of yskoue (krio-ballon), wat tot dusver gebruik is om atriale fibrillasie te behandel.
Met die nuwe tegnologie, wat ook per hartkateter via die femorale aar in die lies tot in die hart geplaas word en dan deur die septum na die linker atrium gestoot word, word vinnige, beheerde elektriese pulse binne mikrosekondes op die regte plekke afgevuur. Die elektriese ladings word deur die toestel aan die voorpunt van die kateter vrygestel. Die toestelletjie ontplooi eers halfpad soos ’n mandjie en dan soos ’n blommetjie met vyf kroonblare.
Die spesifieke frekwensie wat ingespan word, skiet mikro-porieë in die selmembrane wat daartoe lei dat die spesifieke selle waarop die ‘skote’ gemik is, sterf terwyl geen omliggende weefsel beskadig word nie. Geen omliggende weefsel word beskadig nie, omdat hartweefsel die gevoeligste is vir die lading en frekwensie van die elektriese skote, terwyl ander weefsel se drempelwaardes vir skade hoër is. As dit nie die geval was nie, was elektroporasie nie moontlik nie, het prof. Reinsch verduidelik.
Die voordele van die nuwe tegnologie is dat dit baie vinnig is – die ablasie self duur in ervare en kundige hande skaars ‘n minuut – en dat dit doeltreffend is om atriale fibrillasie toeltreffend te behandel. Voorts is dit veiliger as enige ander tegnologie omdat die frekwensie van die pulse so laag en spesifiek is dat dit slegs die hartselle waarop dit gemik word, laat sterf, maar geen ander weefsel nie, het dr Gopal gesê.
Hoewel die nuwe tegnologie nog baie nuut is, het die studies wat sedert 2018 gedoen word, uiters belowende resultate getoon, en lewer die sentra in Europa en Engeland waar die elektroporasie nou ingespan word, dieselfde goeie resultate as in die studies.
“Ek is baie hoopvol dat hierdie nuwe tegnologie inderdaad die tegnologie van die toekoms gaan word, en dat alle gevalle van atriale fibrillasie wat met ablasie behandel kan word, binne ’n jaar of twee met elektroporasie behandel sal word.’’
Dr Gopal voorsien dat die nuwe tegnologie in die toekoms ook ingespan sal word om alle ander hartritme-defekte soos Wolf-Parkinson-White sindroom in kinders te behandel, want navorsing is reeds aan die gang om die toestelletjie waardeur die elektriese stroom die hartweefsel raak, te verander in ’n fokus-toestelletjie wat foutiewe weefsel puntsgewys kan vernietig.