1e Multi-elektrode ablasie in Afrika gedoen

2nd March 2015

3 Desember 2014 – Nog ‘n eerste in ontluikende wêreld vir Mediclinic Panorama en Cape Town AF Centre

Spesialis herstel hartritme-fout met ‘n nuwe tegniek

Met ‘n nuwe tegniek wat met die gesegde twee-bokke-met-een-skoot vergelyk kan word, het ‘n Kaapse hartspesialis Maandag, 1 Desember, geskiedenis gemaak toe hy die eerste in Afrika en die ontwikkelende wêreld geword het om met ‘n stringetjie elektrodes binne-in die hart ‘n hartritme-stoornis te herstel deur met ‘n enkele afvuring tien ‘skote’ tegelyk te skiet sodat die trefplekke onmiddellik ‘n aaneenlopende sirkel vorm – presies wat nodig is om atriale fibrillasie te behandel.

Die enkele afvuring deur tien elektrodes tegelyk het hartweefsel in ‘n netjiese en aaneenlopende sirkel voldoende beskadig om die foutiewe elektriese impulse wat atriale fibrillasie veroorsaak, hok te slaan. Voorheen moes die sirkel kolletjie-vir-kolletjie geskep word om te keer dat die foutiewe impulse die linker atrium (vulkamer) bereik en tot ‘n chaotiese hartritme lei. Die sirkel kan ook met ‘n gevriesde ballon in die hart geskep word.

Jeremy Rowse (60) van Constantia het met dié prosedure die eerste pasiënt In Afrika geword wie se atriale fibrillasie met die nuwe tegniek bekend as multi-elektrode ablasie herstel is. Hy is twee dae later uit die harteenheid van Mediclinic Panorama ontslaan.

Atriale fibrillasie (AF) is die algemeenste hartritme-stoornis waar die hart chaoties en vinnig klop.

Die prosedure is uitgevoer deur dr. Razeen Gopal, een van Suid-Afrika se handjievol intervensionele elektrofisioloë (super-hartspesialiste wat verder opgelei is om hartritme-defekte te herstel). Dr. Gopal is hoof van die Kaapstadse Atriale Fibrillasie Sentrum, gesetel in die Mediclinic Panorama se harteenheid.

Dr. Gopal is bygestaan deur prof. André Ng, hoof van kardio-elektrofisiologie aan die Leicester Universiteit, en een van die eerste spesialiste in die wêreld wat die nuwe tegniek toegepas het. Hy het die afgelope 18 maande meer as 150 multi-elektrode ablasies suksesvol uitgevoer, en het na Kaapstad gereis om dr. Gopal by te staan. Prof. Ng is bygestaan deur ‘n mediese tegnoloog en ‘n elektroniese ingenieur van onderskeidelik Engeland en Hongarye wat hom vergesel het om die span in die Mediclinic Panorama touwys te maak.

Prof. Ng het in ‘n onderhoud die vooruitgang in die ablasie-behandeling vir atriale fibrillasie die afgelope dekade as opwindend en verbysterend beskryf. Tien jaar gelede is die meeste pasiënte met AF bloot met medikasie behandel. Nou kan ons baie van die pasiënte met groot sukses help en hul risiko vir beroerte verminder met die nuwe kateter-ablasie-tegnieke. Meer as 80% van pasiënte wat deur ons span in Leicester behandel word, het slegs ‘n enkele ablasie-prosedure nodig. Ek verwag selfs nog verdere vooruitgang in tegnologie in die volgende dekade.’’

Hoe werk die nuwe tegniek vir behandeling van atriale fibrillasie
Met multi-elektrode-ablasie word ‘n dun kateter met ‘n string elektrodes en sensors wat soos ‘n armband lyk, aan die voorpunt, ingespan om die foutiewe fokuspunte wat die onreëlmatige hartritme van AF veroorsaak, vinnig en veilig in die linker-ontvangkamer van die hart te vernietig.

Die prosedure verg kundigheid en vaardigheid, want die spesialis moet – anders as in baie ander gevalle van hartritme-ablasies – in die linkerhartkamer werk. In die hande van ‘n ervare en kundige elektrofisioloog is die prosedure veilig, maar dit kan gevaarlik wees as ‘n hartspesialis sonder genoeg ervaring en deeglike opleiding die tegniek aanpak.

Dit is baie belangrik dat AF doeltreffend behandel moet word, omdat die lewensgevaarlik kan wees. Sonder behandeling met sterk antistolmiddels en moontlik ablasie, het AF-lyers ‘n 5 x groter kans om beroerte te kry as iemand met ‘n normale hartritme. Aangesien die voorkoms van AF drasties toeneem met ouderdom, ly baie Suid-Afrikaners bo 60 jaar aan dié steurnis, en nie almal ontvang doeltreffende behandeling nie.

Indien hierdie algemene ritme-stoorrnis in ‘n vroeë stadium – waar die hart nog nie permanent onreëlmatig klop nie – herstel kan word, kan die pasiënt se risiko vir beroerte dramaties verminder.

Wat maak die nuwe tegniek anders?
Volgens Prof Ng is die nuwe multi-elektrode ablasietegniek vinniger en akkurater as ander metodes vir die behandeling van atriale fibrillasie omdat die nuwe tegnologie die volgende eienskappe het:
Eerstens kan die ‘armband’ se sensors foutiewe elektriese fokuspunte baie akkuraat karteer. Die gekarteerde fokuspunte is met spesiale sagteware verbind aan ‘n drie-dimensionele beeld van die hart wat die fokuspunte nie net aandui nie, maar ook onthou al beweeg die kloppende hart.
Tweedens kan die armband vloeistof vrystel wat verhoed dat die hitte-vrystellende elektrodes te warm word, maar terselfdertyd help om hoer energie onder meer gekontrolleerde en veiliger omstandighede te lewer.
Derdens kan die armband – wat reeds in die regte posisie geplaas is – se tien elektrodes almal op een slag afgevuur word. Die prosedure is vinniger omdat slegs een skoot nodig is om ‘n volle sirkel van weefsel voldoende te beskadig sodat die foutiewe impulse nie meer oor die sirkel kan spring nie.

Prof. Ng het ook verduidelik dat indien die pasiënt se hart nie onmiddellik na die ablasie in die teater normaal ritmies klop nie, die hart geskok word. Dis soos om ‘n motor se enjin wat verkeerde revolusies het. Ons neem die foutiewe skakelaar weg (die foutiewe seine uit die long-are), maar ons vind nou dat die resultate beter is as ons dan sommer gou die enjin herprogrammeer (deur die hart te skok in sy nuwe, normale ritme).

Mnr Rowse, Dr Gopal en prof Andre Ng

Mnr Rowse, Dr Gopal en prof Andre Ng


Ander eerstes vir die eenheid
Dr Gopal het in 2012 die eerste prosedure in Afrika utitgevoer met die die nuutste krioballon-ablasie-tegnologie. Die pasiënt, Hein Pieterse (36) van Malmesbury, het aan AF gely, maar is sedert die prosedure asimptomaties.

Buiten vooruitgang in ablasie-tegnieke het dr. Gopal ook in 2013 geskiedenis gemaak toe hy nuwe tegnologie ingespan het vir die behandeling van gevorderde hartversaking wat glad nie op behandeling met middels wou reageer nie, en ook die eerste nuwe piepklein hartmonitor ingeplant het.

Skakels en inligting:

Meer oor Prof. Ng http://www2.le.ac.uk/departments/cardiovascular-sciences/people/ng-ga